Brisbane, waar die Springbokke in 1956 hul eerste wedstryd oorsee teen Australië gewen het, is vir die Suid-Afrikaanse rugbyspan die spreekwoordelike begraafplaas.
Ná 16 wedstryde in dié stad in Queensland, kon die Springbokke in die 68 jaar sedert Basie Viviers se Bokke hul eerste oorsese toets teen Australië, gewen het, nog net ʼn verdere twee oorwinnings in 16 wedstryde in Brisbane behaal.
Dus, ʼn skamele drie oorwinnings uit 16 wedstryde deur die Springbokke is die aanduiding van hoe moeilik dit is om in Brisbane te wen – en nugter weet waarom!
Terselfdertyd is dit ʼn waarskuwing vir Rassie Erasmus-hulle dat ʼn oorwinning Saterdag teen die Wallabies alles behalwe ʼn gegewe is.
Met ʼn kykie na die tellings in die 13 neerlae van die Bokke, staan die telling van 0-49 in 2006 as die seerste duim uit. Wat meer is, dit was die Springbokspan van Jake White wat die volgende jaar die Wêreldbeker gewen het.
Daar was ook die 9-29 in 2003 en die 6-21 in 2009 waarmee die Bokke verloor het.
Die laaste wedstryd tussen die twee lande in Brisbane was in 201 wat met 30-27 deur die Wallabies gewen is.
Die volledige 16 wedstrydtellings in Brisbane, wat deur die jare op verskillende velde in verskillende stadia gespeel is, volg hieronder (datum, wen/verloor van Suid-Afrika, met die eerste telling die van die Bokke):
1956 wen 9-0
1965 verloor 8-12
1971 wen 14-6
1993 verloor 20-28
1997 verloor 20-32
1999 verloor 6-32
2002 verloor 27-38
2003 verloor 9-29
2006 verloor 0-49
2009 verloor 6-21
2009 verloor 13-30
2013 wen 38-12
2015 verloor 20-24
2016 verloor 17-23
2018 verloor 18-23
2021 verloor 17-30