Die gedagte dat ons maar moes verlief neem met ʼn Curriebekerreeks wat sonder van sy grootste sterre is, het toe in die praktyk nie heeltemal teleurgestel nie.
Die afgelope naweek is daar in die vier Curriebekerwedstryde nie minder nie as 36 drieë gedruk. Lekker vir die toeskouers, veral dié wie se spanne wen, maar eenvoudig ʼn aanklag teen gebrekkige verdedigingsëpatrone en fisiese keerwerk.
Die wedstrydstatistiek in die wedstryd tussen die Westelike Provinsie en die Griffons in Kaapstad het volgens die webtuiste Maroelamedia nie minder nie as 36 mislukte uit 82 duikslae gehad.
En dit was nie veel beter aan die Griffons se kant nie!
- In dié wedstryd Saterdag het die WP vyf drieë en die Griffons twee gedruk. Die WP het met 39-17 gewen. Lekker rugby, swak verdediging …
- Die Vrystaat het vyf drieë teen die vier van die Blou Bulle gedruk. En die telling was 34-elk. Lekker rugby, swak verdediging …
- Die Pumas en die Sharks XV het gelykop met 44-elk gespeel. (ja, amper ongelooflik maar waar!) Die Pumas het ses en die Sharks vier drieë gedruk. Lekker rugby, swak verdediging …
- Die Lions moes Sondag in Kimberley uithaal, en het met 36-28 teen Griekwas (ses drieë teen vier) gewen. Lekker rugby, swak verdediging …
■ Ons sien dus nog lekker opwindende en aanvallende rugby, en daar sal gewis oor die volgende jaar of wat uit die huidige Curriebekerspelers internasionale sterre na vore tree. Dink maar net aan Morné van den Berg, die Lions se nuwe Springbok-skrumskakel, wat eintlik vanjaar tot sy reg gekom het. Om te dink, by Linden Hoër was Krappies soos hy genoem word, ʼn senter!
Die Curriebekerrugby wat gespeel word, is lekker, die aanvallende spel is van goeie gehalte en dit is lekker om te kyk – ondanks die minder toeskouers. (Hulle is moontlik aan’ t spaar is vir die belangrike wedstryde teen oorsese spanne in die Verenigde Rugbykompetisie (VKR), die Europese Kampioenskaps- en ook die Europese Uitdaagreeks.)
Die voordeel van hierdie wedstryde sonder die groot sterre, so is al baie gesê, is dat spelerdiepte in die afwesigheid van die Springbokke in ons rugby gebou word. Dit word binnekort voorgesit wanneer die oorsese kompetisie ook weer begin.
Maar lekker en opwindend soos die twee gelykop uitslae die afgelope naweek was toe die Blou Bulle (soos hulle in die plaaslike kompetisie bekend is) ná ʼn aanvanklike stewige voorsprong, eers in die in die laaste oomblikke teen die Vrystaat met ʼn strafskop deur Boeta Chamberlain kon gelyk trek om met 34-elk gelykop te speel, pla die têkkel-syfer
En nét so moes Clinton Swart die Pumas ‘red’ met ʼn gelykmakende strafdoel – ook met die laaste aksie in hul wedstryd teen die Sharks. Die telling was 44-elk.
Toe het Griekwas verras met hulle kwaai teenstand teen die Leeus (nie die Lions soos hulle in die oorsese kompetisies bekend staan nie) en het met net 28-36 verloor.
Daar was 10 dae gelede ook die amperse oorwinning van die Griffons teen die Vrystaat ná hul terugvegpoging om uiteindelik met net 47-45 te verloor. Elf drieë, ses vir die Vrystaat, vyf vir die Griffons plus nog ʼn strafdrie vir elk – dus 13 in die wedstryd
Die vraag is egter of daar, te midde van al die pragtige en baie belowende aanvallende talent en die baie drieë, genoeg aan ons verdediging gewerk word.