deur Wim van der Berg
RASSIE Erasmus, Suid-Afrika se direkteur van rugby, het so ʼn week of vier gelede daarop gesinspeel dat rugby vinniger geword het. Die Sprinbokkaptein Siya Kolisi het dit nog sterker gestel: Ons sal vinniger moet speel.
Natuurlik spreek dit vanself dat die Bokke daarby sal moet aanpas, as verdedigers en ook as aanvallers.
Dit was die afgelope naweek, veral in die wedstryd waar die Franse vir Engeland met 53-10 op laasgenoemde se heiligdom Twickenham gekarnuffel het, duidelik dat dit vorentoe nie sonder meer spanne gaan baat om bloot te keer en by die afbreekpunt om die bal te veg nie.
Vaart na die afbreekpunte, agterlyn-aanvalle op volle vaart en vinnige aansluiting by die aanvalle of inklim by die afbreekpunte, was aan die orde van die dag in die Franse se spel teen Engeland. Die Iere het sewe drieë gedruk.
Dit was werklik ʼn lus om te sien en het dit des te meer lekker gemaak om Engeland se gesukkel te aanskou.
Trouens, die Franse op die aanval – weliswaar teen ʼn powere Engeland – was onvergelykbaar met die goeie spel van Ierland teen Skotland. En dís die twee spanne waaraan die Bokke hulle vanaf 10 September in Frankryk in hulle Wêreldbekergroep moet steur.
Ja, Ierland het ook gereeld met die agterlyn aangeval, en hulle losvoorspelers met Josh van der Flier en Pete O’Mahony aan die spits, was indrukwekkend.
Hulle het egter agterlangs, selfs voor hul talle beserings, nie met dieselfde vaart as die Franse aangeval nie. Konstruktief, ja, en ook vinnig, maar nie met dieselfde vaart as die Franse as hulle begin wyd speel het nie.
Maar dan ís dit so dat Engeland se verdediging teen die Tricolores power was, wat dinge miskien rooskleuriger aan Franse kant laat lyk het
- Die ganse rugbywêreld gee toe dat die Springbokke se vaste vyf nie hul gelyke in die vaste fasette of met die mededinging by die losgemale het nie, waar ions losvoorspelers ook uitblink. Maar as die Iere hul driekwarte en losvoorspelers ook so vinnig soos teen Skotland kan laat aanval, verdedig en omkeerbesit wen, gaan hulle moeilik
Vinniger rugby is waarmee ek Ierland geloof het. Maar dan is dit ook ʼn realiteit dat Ierland, weliswaar in Dublin, vir Frankryk oortuigend met 32-19 geklop het en deurgaans in die reeks goeie rugby gespeel het. Steeds vinnig, steeds gestruktureerd en met ʼn uitmuntende pak voorspelers.
ʼn Mens sal maar moet sien hoe Engeland ná die Franse loesing hergroepeer. Hulle moet Saterdag die onoorwonne Ierland hokslaan, wat deur te wen met die Grand Slam sal kan spog – en Nommer Een in die wêreld sal bly. Sonder vyf beseerde staatmakers wat nie sal kan speel nie sal die Iere se diepte onteenseglik toets, al is dit ook teen die sukkelende Engeland.
Maar die Springbokke kan hulle vat! Dít het hulle ondanks ʼn onervare 28-jarige skeidsregter van Georgië op die Jaareindtoer in Dublin bewys waar blaserblapse vir Siya Kolisi-hulle teen Ierland gekos het.
Hulle moet net bedag wees op veral die vinnige rugby van ʼn skitterende Ierland agterlangs.