Uitspeelrondes plaas ekstra druk op afrigters

deur Wim van der Berg

DIE nuwe Curriebekerreekse wat die naweek begin het, bring skielik die realiteite van Suid-Afrikaanse spanne se skuif na die Noorde toe tuis.

Elkeen van Suid-Afrika se vyf  franchise’e sal hulle ruskanse moet tel wanneer hulle ook met hul provinsiale spanne in die Curriebekerreekse én in die die twee oorsee kompetisies, die Verenigde Rugbykampioenskap en die Europese Rugbykampioenskap, wat plek-plek oorvleuel, moet speel.

Erger nog, daar sal baie hard besin moet word watter spelers moet rus en wie moet speel. Daar is ook nog die inagneming van die gebruik van Springbokke wat in Julie die eerste van hul 14 toetse vanjaar speel. (Dit het die week vanaf 13 met een vermeerder omdat Jacques Nienaber sy uitverkorenes vir die wêreldbeker eers ná ʼn bykomende wedstryd teen die Pumas op 8 Augustus wil kies.

Die vraag vir afrigters (en dit sal afhang van die franchise-afrigter) sal wees wie wanneer vir hul provinsie of franchise moet of mag speel?

Dit gaan vir ons vyf franchise’e meet en pas kos, want daar is boonop by die volgepakte seisoen die (baie lakse!) maksimum toelating van gekontrakteerde spelers  wat ook in aanmerking geneem moet word.

Vir die Stormers en die Bulls is daar die gemoedsrus dat hulle ook uit hul heelwat diepte op klubvlak kan gaan put in die gevalle waar die WP en die Bulle Curriebekerrugby moet speel wanneer hul twee franchise’e in hul oorsese reekse gemoeid is.

Die Sharks, Lions en Cheetahs het nie dieselfde diepte gehalte-spelers op klubvlak waaruit gekies kan word nie. Die Lions en die Cheetahs speel in die Curriebeker en in die Europese Uitdaagreeks,

Al is daar net drie, vir party spanne vier, rondes in die VKR oor om voor te beplan, is daar natuurlik die lang togte na en van wedstryde. Die Stormers speel byvoorbeeld op 24 Maart in Ierland teen Leinster en twee dae later in Durban speel die WP in ʼn Curriebekerwedstryd teen die Sharks.

John Dobson, wat albei die Kaapse spanne vir die twee kompetisies afrig, sal een van sy adjudante in die Kaap agterlaat om die span voor te berei maar sal self die Sondagwedstryd kan bywoon.

Hy het dit duidelik gemaak dat Stormers se groep afrigters na die Curriebekergroep sal omsien omdat hulle die groep spelers wil leer ken. En hy het beklemtoon dat dit is nie omdat hy dink daar is nie ander bevoegde afrigters in die Kaap wat die Curriebekerleisels kan oorneem nie.

Dobson is vasberade dat die Westelike Provinsie weer ʼn Curriebekerkrag moet word. Dié kompetisie is vir hom en die WP nog relevant, anders as vir baie lekkerbek-ondersteuners wat hulle daaraan afsmeer omdat hulle die rugby wat daar gespeel word, as minderwaardig beskou

Maar dink net: Soos die Stormers se afrigter op een naweek twee groepe van 23 moet kies (en meer as dít sal Leinster toe vlieg) sal die ander franchise’s dit ook oor die volgende weke moet doen – en twee spanne per naweek moet voorberei.

Vanaf 31 Maart tot 2 April is daar die sogenaamde ‘laaste 16’ in die Europese Kampioenskap waarin die Stormers, die Bulls en die Sharks speel

Die Sharks speel op 1 April tuis teen  Munster in die reeks en dieselfde middag speel die Curriebekerspan  in Johannesburg teen die Leeus.

–  Die WP speel op 1 Maart teen Griekwas. Die volgende dag speel die Stormers tuis teen Harlequins in die kwarteindronde.
–  Die Bulls speel hulle wedstryde in die ‘laaste 16’ van die Kampioenebeker op Sondag 2 Mei in Frankryk  teen Toulouse.. Die Bulle, hul Curriebekerspan, speel die naweek vrydagaand 31 Maart weg teen die Griffons.

Die Lions en die Cheetahs speel in die uitspeelrondes van die Rugby Uitdaagreeks. (Die uitspeelrondes se spanne is dié wat nie die laaste 16 van die Rugbykampioenskap gehaal het nie en die beste spanne van die Rugby Uitdaagreeks, wat vanjaar ietwat skeefgetrek is deur die vermindering van die ligaspanne in die Engelse Premierliga weens die bankrotskap van Wasps en Worcester.)

Daar moet die afrigters van die Lions en die Cheetahs ook bontstaan. Albei speel op 1 April in die Uitdaagreeks, die Lions tuis teen Racing 92 en ook tuis teen die Sharks, en die Cheetahs weg teen Toulon en die Curriebekerspan weg een die WP.

Vir al vyf ons spanne wat dus in die Europese uitspeelwedstryde betrokke is, wag daar, as hulle sou wen, vorentoe soortgelyke scenario’s.

Dit gaan ook interessant wees om te sien watter Springbokke toegelaat sal word om vir hulle franchise’e te speel. Heelparty van die Bokke het reeds hulle ‘kwota’ minute gespeel en moet nou rus, maar Nienaber-hulle sal darem ook wil hê die manne moet wedstrydoefening agter die rug kry voordat die vierhoekige Rugby Kampioenskap teen die All Blacks, Poemas en Wallabies op 8 Julie  begin, met die volgende twee rondes van die kompetisie oor die naweke van 15 en 22 Julie.

  • Weens die Wêreldbekertoernooi wat op 8 September begin, is daar vanjaar geen inkomende toere na Suid-Afrika nie en ook nie die gewone dubbelronde van die Rugbykampioenskap nie. Die Springbokke sal egter saam met die Poemas se toets met op dieselfde vlug na Buenos Aires vertrek om daar op 8 Augustus vir oulaas die spelers dop te hou voordat die Wêreldbekerspan aangekondig word.
Facebook
Twitter
LinkedIn
Pinterest

Maak 'n opvolg-bydrae