Dis nou uithaal en wys vir Blitsbokke na skande in LA

deur Tobie du Preez

DIT is nou uithaal en wys vir die Blitsbokke na verlede naweek se skandelike vertonings.

Een uit vyf, lees hulle rekord, met die nuwelinge Uruguay wat een van die vier oorwinnaars was. Teen Chilli was die span selfs 0-45 agter voor ʼn drie in die laaste oomblikke. Hulle was vrotsig, om die minste te sê, in verlede naweek se toernooi in Los Angeles.

Die leiers in die spelerskorps was net so omgekrap, of waarskynlik meer, as hulle ondersteuners nadat hulle die afgelope jare ʼn spogspan was.

“Ons was takties swak en het ondermeer in verkeerde plekke op die veld gespeel,” sê Impi Visser, wat die span dikwels aanvoer. ”Dit was swaar om te sluk. Ons het almal teleurgestel.”

Die spankaptein Shakes Soyizwapi was eweneens skreiend in sy kritiek. “Ons is beroepspelers en ons moes beter gewees het in die toestande,” het hy gesê oor die nat veld waarmee hulle te doene gekry het.

“Daar is niks oor te sê nie, ons moet net eenvoudig beter speel en wys wie ons is. Dit kan ons slegs doen om te speel volgens die standaarde wat ons vir onsself gestel het en waarop ons trots is.”

Visser het by sy siening gevoeg dat dit gelukkig is dat hulle die kans kry om te wys wat die span werklik is en waartoe hulle in staat is. “Die individue het ook bygedra tot die afwaartse spiraal ons ons nou bevind. Ons sal beter wees, hou ons maar dop.”

Van Vrydag af is daar kans om te vergoed.

Die Blitsbokke skop Vrydagaand 22:14 ons tyd teen Frankryk af, en speel Saterdagoggend 04:48 teen Japan gevolg deur Argentinië (23:26)

Die Blitsbokke is steeds, in die derde plek waar hulle nou is, in ʼn posisie om direk sonder uitspeelwedstryde vir vanjaar se Olimpiese Spele in Frankryk (26 Julie tot 11 Augustus) te kwalifiseer. Argentinië is in die tweede plek, heelwat agter Nieu-Seeland (107 punte).

Die Blitsbokke en Argentinië het albei 86 punte, maar die Poemas is op ʼn tegniese punt in tweede plek. Fidji staan op 86 punte, Samoa op 81 en Australië (76) en Frankryk (76) kan ook in die boonste  vier spanne eindig. Spanne wat laer aan die einde van die huidige HSBC Sewesreeks van Wêreldrugby is, sal moet kwalifiseer.

Facebook
Twitter
LinkedIn
Pinterest

Maak 'n opvolg-bydrae