Dis nie net die spelers wat buite hul eie landsgrense gaan speel en sommer baie dikwels ook vir die nuwe land gekies word nie. Kyk maar na die rondloper-afrigters van die wêreld se voorste lande.
Twee van die wêreld se drie voorste spanne, Nieu-Seeland en Suid-Afrika, het nog nooit ʼn ‘vreemde’ afrigter gehad nie. Wêreldrugby se Nommer Drie, Australië, het wel.
Robbie Deans, wat soveel sukses met Canterbury Crusaders gehad het, was die eerste ‘buitelander’ wat die Wallabies (2008-2013) afgerig het.
Dit is net Frankryk, en die afgelope twee jaar darem ook Skotland, van die deelnemende spanne aan die Sesnasiesreeks, wat tans nie ʼn afrigter van ʼn ander land het nie. (Tot 2019 toe het Dave Rennie, ʼn Nieu-Seelander wat drie opeenvolgende Wêreldtitels met die o.20-span van Nieu-Seeland gewen het, nog vir Glasgow afgerig. Hy is nou by die Wallabies)
Ons kyk eerste na die Sesnasies-lande:
Wallis (negende op die ranglys):
Die Rooitruie is dié voorbeeld van ʼn toprugbyland (ranglys nr. 9) wat met ʼn rits buiteafrigters sedert 2000 geploeg het.
Daar is die huidige afrigter Wayne Pivac, Warren Gatland, Steve Hansen, Graham Henry. Hulle het almal hul rugby en afrigtingsambag in Nieu-Seeland geleer, en Scott Johnson is ʼn Australiër.
Argentinië (agste op die ranglys):
Dié span, wat agste ter wêreld gekeur is, het sedert die middel-negentigs toe die voormalige All Black Alex Wylie eers saam met plaaslike afrigters die Pumas afgerig het en in 1999 die pos alleen beklee het, nog nie weer ʼn buitelander as afrigter aangestel nie.
Skotland (sewende op die ranglys):
Vern Cotter (Nieu-Seeland), Dan McFarland (Ierland) Matt Williams (Australië, ook Leinster, Skotland en Ulster), Richard Robinson (Engeland) en Scott Johnson (Australië) was die afgelope jare buitelandse hoofafrigters by Skotland, met die voormalige Skotse losskakel/senter Gregor Townsend (baie bekwaam) wat nou die afrigtersleisels hou.
Frankryk (sesde op die ranglys):
Hulle is te trots (en ook te goed!) om ʼn buiteafrigter aan te stel. Hulle het nou vir Fabién Galthie, ʼn ‘eie’ afrigter en ook ʼn voormalige kaptein van die Hane. Frankryk is saam met Skotland die enigste spanne van die Sesnasiesreeks-lande met ʼn ‘eie’ hoofafrigter
Ierland (vyfde op die ranglys):
Ierland se grootste suksesse het gekom toe die Nieu-Seelander Joe Schmidt die sweep geslaan het. In sy ses jaar as Ierland se afrigter het hulle drie Sesnasiestitels, met inbegrip van ʼn Grand Slam in 2018, gewen. Ierland was boonop in 2019 die heel eerste keer nóg die Nommer Een op Wêreldrugby se ranglys.
Hulle het ook onder Schmidt die heel eerste keer nóg die All Blacks geklop
** Tans is die pa van die Engelse kaptein, Andy Farrell, die Ierse afrigter. Hy is ʼn voormalige hulpafrigter van Engeland en is in 2015 saam met die hoofafrigter Stuart Lancaster deur die RFU en die nuwe afrigter Eddie Jones gepos omdat Engeland nie eens die uitspeelrondes in hul tuis-Wêreldbekertoernooi kon haal nie.
Warren Gatland (Nieu-Seeland), Murray Kidd (Nieu-Seeland) en Schmidt was sedert die draai van die eeu ook tussen Engeland se hoofafrigters.
Engeland (vierde op die ranglys):
Dié land, met moontlik die sterkte klubstelsel waaraan 1 900 klubs deelneem en boonop die meeste spelers (meer as 170 000) ter wêreld, het darem ʼn hele klompie van hul eie mense as hoofafrigters aangestel..
**Die huidige hoofafrigter Eddie Jones is natuurlik een van dié voorste rugbynomade en het al vir Japan en Australië afgerig. Hy was ook Jake White (2007) se assistent toe die Bokke die Wêreldbeker gewen het.
Australië (derde op die ranglys):
Hulle word tans deur Dave Rennie afgerig. Hy is ‘n Kiwi, wat sy tande as afrigter van die Nieu-Seelandse o.20s geslyp het en drie Wêreldtitels in drie jaar gewen het en toe vir Glasgow afgerig het.
Maar kom ons kyk ook na ʼn paar van die spanne wat laer op Wêreldrugby se ranglys is:
Italië (14de op die ranglys)
Hulle het ʼn ’soveelste ‘vreemde’ afrigter, met die voormalige All Black Kieran Crowley (ʼn Wêreldbekerwenner) wat by Franco Smith oorgeneem het. Smith is nou die hoëpretasiebestuurder in Italiaanse rugby..
Georgië (12de) het sy eie man, Levan Maisashvili, wat byna in Suid-Afrika aan Covid dood is toe sy span hier kom speel het, as hoofafrigter.
Fidji (nommer 11) word gesamentlik deur die Nieu-Seelander Verne Cotter en mede-Kiwi John McKee afgerig;
Samoa (13de) en Tonga (15de) het afrigters vanuit hul eie stelsels.
Die VSA (18de) strompel voort onder die voormalige Springbok-hulpafrigter Gary Gold. Hul stelsel(s) maak dit onmoontlik om behoorlik af te rig, en (slegs die één keer) behoort Donald Trump darem seker nie die skuld vir chaos te dra nie.
Rusland (21ste) het vir Lyn Jones van Wallis en Namibië (24ste), wat weens interne struwelinge twee, drie jaar gelede ontspoor het, het die voormalige Bok-afrigter Allister Coetzee as hoofafrigter.
ʼn Mens hoef nie eers te kyk hoeveel ander lande ‘vreemde’ hulpafrigters gebruik nie. Van die kleiner lande kan natuurlik ook net eenvoudig nie vir afrigting betaal nie.