Dit is ongetwyfeld so: Die All Blacks bly die wêreld se gunstelingspan en die Springbokke is, en was deur die jare selde, die gunstelinge van veral die Europese toeskouers.
Nou het die All Blacks boonop, ná die naweek se 47-9 oorwinning teen Italië, die rekord van die 2007 Bokke van Jake White (658 ) vir die meeste punte in ʼn seisoen agter hul naam tot 675 verbeter.
Hulle het dit reggekry deur ‘rugbyreuse’ soos Tonga (102-0), die Eagles van die VSA (104-14), Fidji (57-23 en 60-13) en Italië ( 47-9) te verneder. In die proses het hulle 96 drieë gedruk – ook ʼn nuwe rekord wat voorheen deur Argentinië (92) gehou is.
Hulle het ook net een keer, teen Suid-Afrika, verloor.
▲ Ondanks die effense sarkasme hierbo met die verwysing na hul dikwels bedenklike teenstand, is die All Blacks nietemin ʼn topspan wat hardlooprugby speel. Hulle het ook die voordeel dat van die Suidsee-eilande se bestes deur verbly- en voorouer-kwalifikasies nou volbloed Nieu-Seelanders is en vir die All Blacks mag speel.
Wat egter duidelik is, is dat die All Blacks, soos destyds in Maroelamedia voorspel is, nou skielik met taai plaaslike teenstand sukkel nadat die ou Superrugbyreeks verval het.
Die Suid-Afrikaanse franchise het hul deel bygedra en die afgelope jare ʼn hele paar keer in die ietwat onverstaanbaar-verwronge Superrugbyreeks in die uitspeelrondes geëindig. En toe ons – en laat ʼn mens maar eerlik wees hieroor – die pad gewys word, was daar weinig teenstand vir die Nieu-Seelandse Superspanne.
ʼn Interne Kiwi-kompetisie het darem nog krag teen krag gesien, maar daarna het hulle in die reeks teen Australië se vyf franchise gespeel. Die uitslag was voorspelbaar. Die Australiese spanne was in hul gesamentlike 25 wedstryde net een keer aan die wenkant met die Hurricanes wat teen die Queensland Reds verloor het.
Ál vyf die Aussies se spanne het ʼn negatiewe punteverskil gehad wat gesamentlik 480 was met die Reds se minus 70 in vyf wedstryde die beste en die Waratahs se minus 138 (ʼn gemiddelde neerlaag van 28 punte teen die Kiwi’s se vyf spanne) die swakste.
▲ En toe, met die Covidprobleme wat maar oraloor wedstryde bemoeilik het, het Rugby New Zealand toe die blink gedagte gekry om vroeg vanjaar teen Tonga en Fidji te speel.
- Tonga het 13 – ja, ʼn volle 13 – debutante gehad in die wedstryd waar die All Blacks 16 drieë gedruk het. Tonga se Europese spelers kon weens Covidregulasies nie na hul geboorteland vir die wedstryd terugkeer nie.
- In die Rugbykampioenskap het Argentinië, in hul vyfde en sesde oorsese wedstryde in sewe weke, 75 punte teen die All Blacks afgestaan.
Nouja, dis seker suurdruiwe. En so ʼn bietjie lekkerte omdat die All Blacks net twee keer in hul 13 wedstryde swaar geleef het, met een wen en een verloor van twee punte elk teen Suid-Afrika.