In hierdie dae van te veel rugby, en trouens ook te veel wedstryde en kompetisies ook in ander sporte, het rugby stadigaan sy plek as die bakensport van Suid-Afrika begin inboet.
Daar is te veel oorsese spelers, wat plaaslike kompetisies afwater; daar is boonop te veel kompetisies met te veel wedstryde en deelnemers om mee tred te hou; en les bes, die liplekker-reekse teen spanne soos die All Blacks waarna almal jare lank uitgesien het, is daarmee heen.
Nou speel almal, jaar-in en jaar-uit, teen almal. En ʼn wen hier en ʼn neerlaag daar word sommer maar aanvaar as deel van die sport, sonder die passie van ʼn paar jaar gelede.
Elke reeks is weliswaar ʼn lekkernytjie, maar min mense kan nog ons vorige onlangse tellings, selfs uitslae, teen Suid-Afrika se oudste mededingers onthou.
Saterdag speel Suid-Afrika weer teen Wallis. Ek onthou hoe ek in 1993, by Cardiff Armspark toe die dame wat hul geskenkwinkel bestuur het, hoogs ontsteld was toe ek haar (ietwat leedvermakerig!) daarop gewys het dat die Springbokke nog nooit teen Wallis verloor het nie.
Sy was geskok, kwaad en wou dit nie glo totdat ek dit vir haar in een van haar Walliese boekies op die rak op die werklikheid gewys het nie.
Toe was dit 12 gespeel, 11 gewen en een gelykop in die Springbokke se guns.
Dit het voortgeduur met ʼn enkele neerlaag onder Nic Mallett in 1999 toe hy ‘gedwing’ is om sy span te verander en meer spelers van kleur te kies. Die Bokke het 19-29 verloor.
Verder was dit ʼn geval van die Bokke Bo tot 2014. Daarna het neerlae gevolg en nou is dit ʼn algehele rekord van 36 gespeel, 29 gewen, ses verloor en een gelykop.
- Na 2014 het die Suid-Afrikaanse oorheersing gedraai. Van die laaste sewe toetse teen Wallis, het hulle vyf gewen en die Springbokke twee. Die laaste Boksege was in die halfeind van die 2019 Wêreldbeker, wat Wallis met 16-19 verloor en waaroor hulle voel die skeidsregter hulle te na gekom het.
Nader aan Saterdag se wedstryd: die laaste Boksege in Cardiff was in 2013 met vier neerlae wat daar gevolg het.
Maar is dit steeds só belangrik dat ʼn toets eenvoudig gewen moet word? Vir die eer, nie die geld nie? Ook nie vir die blote rekord nie, maar omdat dit ʼn kwessie van eer is?
Nee, stellig nie. Maar trots tel tog …