Lekker sakgeld wink vir Eddie se spelers

Waar gaan dié geld vandaan kom?

Dis nogal ʼn interessante vraag as jy nie die volle agtergrond van rugby in Engeland het nie. Die sukkelende Rugby Football Union (RFU) van nege maande gelede het tóé begroot vir ʼn verlies van £107 miljoen (sowat R2,25 miljard in vandag se wisselkoers) weens die pandemie se effek op die spel.

En nou hoor ons dat elke Engelse speler vir Saterdag se toets teen die vrotsige Tonga sowat £23 000 (net meer as R480 000) sal kry as hulle wen! En dis maar die begin.

Tonga het al vanjaar 0-102 teen die All Blacks en pas 14-60 teen ʼn verswakte Skotland verloor.

Tonga se spelers kry daarenteen minder as R11 000 elk vir die wedstryd op Twickenham – en dit is volgens Tonga se uitvoerende hoof Peter Harding wat die Aussies en Bokke ook sal kry, wen of verloor.

Maar dis nie al nie. Die Engelse span – ʼn mens aanvaar die hele spangroep van 28 – sal ook teen die Wallabies en die Springbokke vir elke oorwinning sowat £23 000 oftewel R480 000 per speler verdien.

Wen hulle al drie dié wedstryde, kry die Engelse spelers dus elk net minder as R1,5 miljoen. Gesamentlik, as al 28 hul deel kry, kos dit die RFU dus R42 miljoen, of andersins as net die wedstryd-23 elke keer betaal word, R36 miljoen.

Dis weliswaar net ʼn druppel in die emmer as jy na die RFU se voorspelde tekort in Februarie kyk, maar darem ʼn lekker meevallertjie vir die spelers in die jaareind-groep.

Intussen sal  ʼn mens graag die jongste begrote projeksiesvan die RFU wil sien voordat hulle boonop ook by die CVC-vorgskap van die Sesnasiestoernooi begin baat

 

Facebook
Twitter
LinkedIn
Pinterest

Maak 'n opvolg-bydrae