Groot tellings: Buit All Blacks die toetsstelsel uit?

FOTO: Alun Wyn Jones, Wallis en die Britse en Ierse lLeus kaptein wat voor die 2021-toer na SA sy
linkerskouer beseer, laat by die span aangesluit en in die toetse gespeel het, en nou weer die skouer beseer het

Kom ons erken nou maar (natuurlik teësinniglik!) dat die All Blacks tans die beste rugbyland ter wêreld is nadat die Bokke twee yslike glipse teen die Wallabies in die Rugbykampioenskapsreeks begaan het.

Nieu-Seeland het Saterdag met 54-16 voor ʼn volgepakte Pincipality Stadion in Cardiff die Sesnasieskampioen Wallis sonder 20 van sy spelers geklop. En Maandag word die All Blacks weer die voorste span op die ranglys.

Jy moet jouself afvra, met inagneming daarvan dat alle rugbylande tans finansieel swaarkry, of die All Blacks nie ʼn voorsiene bespotting gemaak het van die begrip van toetsrugby en ook Wêreldrugby se ranglys nie (waaraan die Kiwi’s in die besonder geheg is!)

Tien dae gelede het die All Blacks ʼn sommerso se tussen-in wedstrydjie voor 40 000 toeskouers in Washington gespeel en met 104-14 teen die Eagles gewen – en die wen teen die VSA was nie hul grootste vanjaar nie. Hulle het vanjaar reeds met 102-0 teen Tonga in die sogenaamde Steinlagerreeks  gewen.

Nieu-Seeland het ook twee maklike Steinlageroorwinnings teen Fidji behaal (57-23 en 60-13).

▲ En van Tonga gepraat: ʼn Erg-verswakte Skotland, sonder ʼn klomp van hul bestes, het Tonga, sonder 20 spelers wat nie oorweeg kon word nie, Saterdag op Murrayfield 60-14 geklop.

Omdat die Eagles laag gegradeer is, het dit nie veel punte op die wêreldranglys vir die All Blacks beteken nie. Die slagting het nietemin vir hulle darem ʼn goeie betaaldag verseker – en seker nie veel vir rugby, ʼn groeiende sport in die VSA, se aansien beteken nie.

▲En toe, die afgelope naweek voor ʼn volgepakte Principality Stadion in Cardiff, het Nieu-Seeland die Sesnasieskampioen Wallis, sonder sowat 10 van sy uitsoekspelers, met 54-16 getroef.

Die wedstryd teen Wallis, wat voor die wedstryd negende op die ranglys was, het genoeg punte vir die Kiwi’s beteken om weer nommer een te wees.

So what? En Hoe so? Is die All Blacks rêrig soveel beter as Wallis?

Moontlik nie. Omdat die toets buite die goedgekeurde toetsvenster geval het, kon Wallis nie vrystelling van veral hul spelers van Engelse klubs vir die toets verkry nie.

Beserings het ook die spankeuse beïnvloed en die Walliese afrigter Wayne Pivac se siening is eenvoudig en teen die gees van toetsrugby : “Dit was goeie ondervinding vir heelwat spelers wat lank nie op dié vlak gespeel het nie.”

Kies hy dus spanne as proewe? Met lekker geldbonusse vir die WRU?

▲ Suid-Afrika speel Saterdag teen Wallis, en ALLE klubs sal hul spelers aan Wallis moet vrystel. Pivac sal vir Dan Biggar, Taulupe Faletau, Nick Tompkins, Louis Rees-Zammit, Callum Sheedy, Thomas Young en Christ Tshiunza kan terugverwelkom. En hopelik ook van hul beseerdes wat nie die All Blacks kon aandurf nie.

▲ Intussen word die All Blacks Maandag weer die nommer een-rugbyland (nie dat dit deur die meeste mense ter harte geneem word nie) en hoop Wallis, sonder veel moed, dat hul kaptein Alun Wyn Jones sal kan speel.  Ook die losvoorspeler Ross Moriarty is in die wedstrytd beseer.

Facebook
Twitter
LinkedIn
Pinterest

Maak 'n opvolg-bydrae