FOTO (Willem Strauss Twitter): Lizo Gqoboko, Springbok- en Bullsvoorryman, was
in sy klubkleure by die eindstryd om sy klubmaats te ondersteun en geluk te wens.
Daar was miskien te veel ongedwonge foute in wat vir die spelers in albei spanne ʼn eerste Carltonbekereindstryd was toe Naka Bulle hard moes werk om die Northam Rhinos onder te kry.
Tog was Saterdagaand se wedstryd in die ou-ou tradisie van die Carltonbekerreeks baie bevredigend en kliphard en taai, en aanduidend van wat by die Bulls aan ‘t gebeur is.
Die eindtelling was 35-25, maar dit kon so maklik anders gewees het as dit nie vir ʼn paar ongedwonge foute van die Rhinos op die aanval was nie.
Daar was ʼn klompie toeskouers, die eerste sedert Maart verlede jaar en hoofsaaklik ondersteuners van die twee klubs, op Loftus Versfeld.
Die wedstryd is regstreeks op SABC2 uitgesaai, en die 16 spelers met Curriebekerondervinding, vier Junior Springbokke, selfs ʼn gekontrakteerde speler van die Bulls se groep in die Verenigde Rugbykampioenskap het dit ʼn interessant en goeie wedstryd gemaak.
Die gevolg was ʼn klipharde Carltonbekereindstryd, goed genoeg om te sê die Bulls se voorste klubliga is weer iets om te waardeer en op trots te wees. Die president Willem Strauss en sy bestuur, en ook raadgewers soos Jake White, verdien ná dié wedstryd en trouens ʼn uiters suksesvolle seisoen in die algemeen, ʼn pluimpie.
▪Daar was struktuur, en nie die gewone getjommel wat so dikwels op klubvlak gesien word nie. Daar was inklimspel voorlangs en dit was eintlik eers in die eerste 20 minute ná rustyd dat Naka die oorhand gekry het om die telling na 32-19 te rek.
Maar toe het Northam se Rhinos met uitstekende voorspelerspel teruggeveg en die telling tot 25-32 gevoer. Die speeltyd het hulle egter ingehaal en in die laaste drie minute het Naka met ʼn strafdoel die telling na 35-25 kon opskuif.
▪Welgedaan – en ʼn voorbeeld oor wat Zelt Marais en sy trawante by die Westelike Provinsie met ondeurdagte besluite en stiksienigheid weggesmyt het.