Beseringspook bemoeilik Nienaber se jaareindkeuses

FOTO: GB Jordaan

Daar is twee dinge wat veral opval as jy na die Springbokspan vir die jaareindtoer na Brittanje kyk.

Dit is eerstens die lang lys van beseerde spelers op Jacques Nienaber se lys van uitverkorenes, insluitende die vyf spelers van die Wêreldbeker-wenspan,wat weens beserings nie oorweeg kon word nie. Dit is net Warrick Gelant van die Wêreldbeker se fikses wat nie die paal gehaal het nie, maar hy het eers onlangs ná ʼn besering weer (skitterend) begin speel.

Die ander (logiese) ding wat jou oog tref, is dat die Bulls, onteenseglik die voorste span in Suid-Afrika, net ʼn enkele speler, Trevor Nyakane, in die groep van 32 spelers het wat teen Wallis (6 November op die Millenniumstadion), Skotland (13 November op Murrayfield) en Engeland (20 November of Twickenham) speel.

Maar dít is nie onverwags nie. Vanjaar se Bulls, wat in 2019 agt spelers in die Wêreldbekergroep gehad het en sedertdien die Superrugby-reeks, twee Curriebekers plus die Reënboogreeks (SA) gewen het, het die afgelope twee maande of so die volgende spelers verloor, met hul nuwe spanne in hakies:
▪  Marco van Staden (Leicester Tigers) en Duane Vermeulen (Ulster) is aan oorsese klubs afgestaan.
▪ Sedert die Wêreldbeker het die Bulls ook vir Warrick Gelant (Stormers), Handré Pollard (Montpellier), Jesse Kriel (Eagles), RG Snyman (Munster) en Lood de Jager (Sales Sharks) aan oorsese klubs verloor en Schalk Brits het uitgetree.

Nienaber se beseerdes

Die vyf beseerdes van die Wêreldbekergroep, Faf de Klerk, Cheslin Kolbe, Frans Malherbe, RG Smit en Pieter-Steph du Toit,  is nie al wat nie oorweeg kon word nie.  Die slot Nicolaas Janse van Rensburg, wat ʼn goeie buiging teen die Leeus gemaak het, is ook nie beskikbaar nie. Hy het ʼn enkelbesering.

Dan kon Nienaber ook nie met vertroue die tweeling van die Sales Sharks, Dan en Jean-Luc du Preez, oorweeg nie. Hulle was egter buiteperde, soos ook Rynhardt Elstadt wat met ʼn besering sukkel maar lid van die Bokgroep teen die Leeus én die in die Rugbykampioenskap was.

Jaden Hendriks, skrumskakel van die Sharks, het in sy debuut teen die einde ʼn uitstekende drie in die eerste toets teen die Pumas gedruk om die bonuspunt te verseker maar is ook beseer.

Nienaber het dus ná die uittrede van Brits, Francois Louw en Beast Mtwarira,en die beserings van Faf du Plessis, Pieter-Steph du Toit, Frans Malherbe, RG Snyman en Cheslin Kolbe, asook die laat terugkeer van Warrick Gelant, net 24 van die 33 Wêreldbekerhelde gekies: 12 voor- en ook 12 agterspelers.

Altesaam neem Nienaber 18 voorspelers en 14 agterspelers Brittanje toe. Hulle vertrek Saterdag.

Daar is twee manne wat nog nie toetsrugby gespeel het nie: slot en mede-kaptein van die Stormers en Grant Williams van die Sharks.

Net 16 van die groep spelers speel voortaan hul rugby in Suid-Afrika.

Die groep –

Voorspelers:
Thomas du Toit (Sharks), Steven Kitshoff (Stormers), Vincent Koch (Saracens), Ox Nché (Sharks), Trevor Nyakane (Bulls), Joseph Dweba (Bordeaux Bègles), Malcolm Marx (Spears), Bongi Mbonambi (Stormers), Lodewyk de Jager (Sale Sharks), Eben Etzebeth (Toulon), Salmaan Moerat (Stormers), Marvin Orie (Stormers), SiyaKolisi (kaptein, Sharks), Kwagga Smith (Júbilo), Marco van Staden (Leicester Tigers), Duane Vermeulen (Ulster), Jasper Wiese (Leicester Tigers), Franco Mostert (Heat).

Agterspelers:
Herschel Jantjies (Stormers), Cobus Reinach (Montpellier), Grant Williams (Sharks), Elton Jantjies (Red Hurricanes), Handré Pollard (Montpellier), Lukhanyo Am (Sharks), Damian de Allende (Munster), Jesse Kriel (Eagles), Aphelele Fassi (Sharks), Willie le Roux (Verblitz), Makazole Mapimpi (Sharks), Sibusiso Nkosi (Sharks), Damian Willemse (Stormers), Frans Steyn (Cheetahs).

Toetsbepalings en afskoptye (SA tyd) –

  6 November            Wallis (Cardiff – 19.30)
13 November            Skotland (Edinburgh – 14.00)
20 November            Engeland (Londen – 17.15)

Facebook
Twitter
LinkedIn
Pinterest

Maak 'n opvolg-bydrae