Geen skeidsregter van Suid-Afrika sal sommer binne die volgende maand of twee meer lof kry as Aimee Barett-Theron ná haar uitstekende debuut in die Verenigde Rugbykampioenskap (VKR) nie, maar AJ Jacobs het darem die goeie nuus van ʼn toetsdebuut gekry.
Ná die duidelike verskil in interpretasies (en in ʼn geval of twee vooroordeel?) wat die vier VKR-franchise’e pas oorsee ondervind het, is die aankondiging van die toetsskeidsregters vir die jaareindtoetse in Europa ʼn verdere brokkie goeie nuus vir die Springbokke.
Paul Williams van Nieu-Seeland sal die Bokke se wedstryd teen Wallis in Cardiff op 6 November beheer terwyl die Aussie Angus Gardner ʼn week later die fluitjie dra in die toets teen Skotland op Murrayfield.
Die Ier Andrew Brace, wat sedert 2017 toetse beheer, is die man met die fluitjie in die belangrike wedstryd teen Engeland op 20 November.
▪ Benewens Jacobs, wat sy toetsdebuut in die wedstryd tussen Romenië en Tonga op 20 November maak, kry Jaco Peyper ook twee toetse: Spanje teen Fidji in Madrid op 6 November en die belangrike kragmeting tussen Engeland en Australië op Twickenham die daarop volgende naweek.
▪ Barrett-Theron is aangewys vir die belangrike vroue-toets tussen Engeland en Nieu-Seeland in Exeter op 31 Oktober en die kragmeting tussen Frankryk en Nieu-See;land in Pau op 13 November.
▪ Marius Jonker en Stuart Berry is as televisieskeidsregters op die paneel paneel vir die November-toetse, en Jacobs, Morne Ferreira en Ashleigh Murray-Pretorius is op die sewes-panele einde November en die eerste week in Desember.