Dis genoeg, sê SA Rugby oor Zelt-manewales

Zelt Marais, president van die WP Rugbyvoetbalunie, se gesteier van die een krisis na die ander het  uiteindelik te veel vir SA Rugby geword en die WPRVU se administratiewe beheer is Dinsdag deur SA Rugby oorgeneem.

Dit volg op ʼn besluit Maandag van die SA Rugbyunie se uitvoerende bestuur. Die voormalige hoofbeampte van SA Rugby, Rian Oberholzer, is deur SA Rugby as administrateur van die WPRVU se sake aangestel en neem met onmiddellike ingang die WPRVU se sake oor.

Volgens die verklaring  is SA Rugby gedwing om ’teensinnig’ op die stap besluit weens die ‘onvermoë van die Westelike Provinsie om regruk-aksies te onderneem’.

In die verklaring word uitdruklik ook melding gemaak daarvan dat die stap, geneem in ooreenstemming meet klousule 29 van die SA Rugbyunie se grondwet, indruis teen die vereiste dat ʼn unie ‘ten alle tye sy sake moet doen op ʼn wyse wat verseker dat hy in ʼn gesonde finansiële posisie is … en dit is die uitvoerende bestuur se mening dat die WPRVU daardie toets gefaal het en dat ons nie verder SA Rugby se inkomste met daardie wete kon uitbetaal nie.’

Marais, wat van die een krisis na die ander gesteier het en miljoene rande van die WPRVU aan hofsake bestee het om ondermeer diegene wat hom teengestaan of nie ondersteun het nie, is onlangs deur ondermeer  ʼn medelid van die uitvoerende bestuur, Peter Jooste, van magsbeheptheid beskuldig.

Bedankings en Marais-skorsings het meegebring dat daar nie meer ʼn kworum by die WPRVU se vergaderings moontlik was nie.

“Ons het oor ʼn aantal maande met die WPRFU oorleg gevoer oor die uitdagings wat die organisasie in die oë gestaar het en gepoog om hulle by te staan,” het SA Rugby se president Mark Alexander aldus die vrystelling van SA Rugby gesê.

Hy het daarop gewys dat hul pogings tot samewerking deur onakkurate inligting en die gevolglike  mislukte poging tot konstruktiewe samewerking in die wiele gery is.

Die unie se onvermoë in sy pogings om homself los te wikkel uit die toenemende uitdagings het dit vir SA Rugby onmoontlik gemaak om net verder toe te kyk.

“Hierdie is ʼn laaste uitweg, maar dit het duidelik geword dat die Unie se leierskap nie die vermoë het om aksies in plek te stel om die posisie te red nie”, aldus die persvrystelling.

Facebook
Twitter
LinkedIn
Pinterest

Maak 'n opvolg-bydrae