Is die gesukkel van Suid-Afrika se vier franchise’e in die Verenigde Rugbykampioenskap bloot net die gevolg van reëlvertolkings? Of is dit eerder ʼn selfgewaande siening oor ons rugbykrag waar ons voorste spanne week-in en week-uit teen mekaar speel en met mooi en goeie rugby die harte laat warm klop?
Wat die rede ookal is, gaan dit tans met die wegspring in die VRK maar olikrig.
Hoe sou ons spanne mekaar nie kon opkeil as ons al sowat 140 van ons beste oorsese spelers hier ter plaatse teen mekaar kon loslaat nie? Dis sowat 20 spelers per span, as jy die Hele Curriebeker-reeks se sewe spanne, insluitende die Vrystaat, Pumas, Griekwas en die OP se Kings in aanmerking neem.
Dink net: 140 spelers, van die land se heel, heel bestes. Nie net sou dit die Premierliga van die Curriebekerreeks versterk het nie, maar die huidige manne wat vir hulle sou moes plek maak, sal afskuif en ook ʼn veel sterker poel vir die Curriebeker Eersteliga voorsien het.
En van die klomp spelers wat moes plek maak sou seker ʼn hele paar hulle na sterker klubs gewen het. … en so aan.
Terselfdertyd sou dit die mededingendheid en gehalte in die Europese en Britse ligas, ondanks hulle getalle en onteenseglike werklike gehalte-diepte, ook seker in ʼn sekere mate geraak het. Sale Sharks het byvoorbeeld tans 12 Suid-Afrikaners van sy gekontrakteerde 45 spelers op sy boeke.
Agt van hulle is Springbokke: Lood de Jager, Faf de Klerk, die drie Du Preez-broers Dan, Jean-Luc en Robert, en Coenie Oosthuizen, Rohan Janse van Rensburg en Akker van der Merwe.
Nee, dis nie ʼn terugkeer na die ou dae van argaïese amateurrugby wat ek hier bepleit nie. Dit is net ʼn realiteit wat sou kon gebeur het as die SA Rand se wisselkoers sterker was en die meeste van ons geldspelers wat tans oorsee speel, hier geholpe kon raak.
140: Dis naastenby (omdat dit wissel met nuwe kontrakterings en spelers wat uittree) die aantal SA spelers wat tans oorsee in die wêreld se heel beste kompetisies speel: Die Engelse Premierliga; die Franse Top 14, wat stellig die wêreld se heel taaiste kompetisie is; die ou PRO14-liga wat nou, met die SA toevoeging van vierspanne, die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) genoem word.
- Ja, daar is ook nog sowat 260 SA beroepspelers wat in laer Europese ligas, in Japan, Georgië, die VSA, Rusland, e.d.m speel.
- Die Rand se swak wisselkoers maak dat Suid-Afrika se 140 spelers in dié drie vernaamste Europese ligas loshande die meeste is. Nieu-Seeland se 105 en Australië se 75 spelers het die volgende meeste spelers in die voorste oorsese kompetisies.
Die lekker hardlooprugby wat in die afgelope plaaslike reekse (twee om die Curriebeker, en een elk in die Superrugby- en Reënboogreeks) gesien is, het buitengewoon baie drieë opgelewer. Dit het ook grootliks daartoe bygedra dat ons skielik nuwe sterre saam met die opwindende aanvalspatrone gesien het.
Maar is verdediging nie grootliks agtergelaat nie? Beslis, ja. En dit word nou in die VKR wreed onder ons neuse gevryf waar SA se vier spanne saam net 16 drieë gedruk en 36 in hul gesamentlike 8 wedstryde afgestaan het.
Trouens, die Sharks se 11 drieë en die nege van die Bulls is die meeste wat ná twee wedstryde deur spanne afgestaan is. En SA se vier franchise is almal onder die laaste ses op die punteleer.
Miskien kan die gesukkel oorsee toegeskryf word aan die baie rugby, hopeloos te veel, wat ons spanne plaaslik teen mekaar gespeel het.
Benewens die kennis van elke teenstander en sy spelers se streke, was daar die afgelope jaar eenvoudig te veel rugby.
Die Bulls, aldus hul president Willem Strauss, het in die afgelope 12 maande 40 wedstryde gespeel. Uitputting en beserings, wat ook hand-aan-hand gaan, en motivering wat week ná week op die nodige vlak moet wees, begin nou oorsee hul tol wys.