Dit gaan goed met Suid-Afrikaanse rugby en ons bly op koers na die volgende Wêreldbeker in 2027.
Tog is daar ʼn hele klomp suur, (of is dit sommer net die gewone dwarstrekkers en/of moedswilliges?) wat alles afkraak wat bereik word.
Ek het self hier en daar oor ʼn paar dinge ʼn eiertjie te lê, maar wil vandag oor die positiewe skryf: Wat Rassie en kie met die Springbokke aanvang en die feit dat ons steeds ʼn sterk Curriebekerreeks het, is geweldige pluspunte wat die meeste rugbylande ons beny.
Kom ons begin by die Springbokke en hul ses toetse vanjaar.
Ons is in ʼn herbou-stadium, en het – al is dit tuis – een uit twee wedstryde teen Ierland, die nommer twee land ter wêreld gewen. Ons het ʼn klomp nuwelinge ʼn eerste proesel van toetsrugby teen Portugal gegee – en toe volg die feitlik onmoontlike as ʼn mens na die geskiedenis kyk, in Brisbane (tot twee weke gelede net twee uit 16 daar gewen!) teen die Wallabies gewen die eerste keer in baie, baie jare (sedert 1971) die laaste drie wedstryde ná mekaar in Australië gewen.
En daarmee ook vier ná mekaar teen die Wallabies sedert 2022, ook die enigste keer sedert die ses wenne tussen 1969 en 1971.
Die laaste wen Saterdag was met alles behalwe ons sterkste opdrafspan.
Word die Springboktrui nie goedkoop gemaak nie?
Daar is ʼn ‘klagte-vraag’ van duisende oningeligtes: Word die Springboktrui nie goedkoop gemaak nie.
Die antwoord vir die jonger geslag, en dus waarskynlik nog grootliks oningelig oor die keuse van Springbokke bespreek ek nou die kwessie kortliks.:
- So onlangs nog as in 2009 het die Springbokke in die VK getoer sonder dat toetse gespeel is.
- In die verlede het die Bokke op lang toere na oorsese lande getoer waar vier toetse en soms tot meer as 30 toerwedstryde teen klub- of provinsiale spanne gespeel het. Die hele toerspan se spelers het hul Bokbaadjies gekry al was hulle nie in toetse betrokke nie.
- Voeg by Rassie-hulle se bostaande besluit om toetse teen swakker lande (Wallis en Portugal) te speel en ook om ons klomp nuwelinge teen die Wallabies in te span, en lees daarmee saam dat die nasionale afrigters nie soos in die ou dae sowat 70 spelers na die nasionale proewe kon nooi nie.
Dáár het hulle almal drie wedstryde voor die destydse keurders moes speel om indruk te probeer maak.
Die afskaf van proewe
Ek het teen die einde van Julie die volgende oor die afskaffing van proewe en die kies op wedstrydvertonings in my maandelikse meningstuk vir die vooraanstaande mediahuis Maroela Media (https://maroelamedia.co.za) geskryf:
Dit word ook bewys deur die aankondiging Dinsdag (23 Julie ), toe vyf van die 2024-nuwelinge in die Bloemfonteinse skouspel gekies is in die groep van 33 spelers wat Suid-Afrika se vaandel in die Rugbykampioenskap teen die All Blacks, die Wallabies en die Poemas moet dra.
Dié vyftal is saam met ondermeer 22 van die Wêreldbekerwenners van 2023 ingesluit in die groep wat in die Kampioenskap se ses toetse moet speel.
Net vyf, sal jy vra, van die groot en dikwels indrukwekkende spel in die sege teen Portugal?
Ja, maar voeg by hierdie ‘nuwelinge’ ook ervare toetsspelers soos ondermeer RG Snyman, Thomas du Toit, Cobus Reinach, Manie Libbok, Kurt-Lee Arendse,
Makazole Mapimpi, Lukhanyo Am wat ook in Bloemfontein gespeel het.
Dan eers besef mens hierdie toets met die gekritiseerde spankeuse was immers ʼn stap wat op die toekoms gerig is.
Dit is gedoen om die plaasvervangers te begin grootmaak om die ouer Wêreldbekerwenners vir 2027 stelselmatig te begin vervang.
Toetse nou gebruik om span te kies
Die wedstryd in Bloemfontein was nie die eerste van sy soort nie waar die wedstryd help bepaal wie goed genoeg vir internasionale rugby is.
Daar is nou eenvoudig te veel rugby om aan die baie tradisies en vele seisoene se hoogtepunte van die verlede vas te klou waar ondermeer weeklange proewe gehou is om kombinasies en teenstanders teen mekaar op te weeg voor die kies van die Bokspan.
Curriebekerrugby
Ja, rugby het die afgelope jare verander. En ek praat nie net van die reëls nie.
Bostaande het ook na provinsiale vlak deurgesyfer waar die spelers merendeels geldrugby speel, maar heelwat minder as die land se heel bestes op Springbokvlak verdien.
Rassie-hulle het nog drie jaar oor voordat hulle die Wêreldbeker moet verdedig, maar intussen is daar reeds ʼn paar manne wat begin hand opsteek hoewel hulle (nog?) nie in die Bokprentjie is nie.
Ek som vinnig die verlede van die Curriebeker-kompetisies op:
Tussen 1892 en 1920 is die 13 Curriebekertoernooie in een unie afgehandel. Die WP het oorheers, maat daar was selde meer as vier, soms vyf, spanne wat deelgeneem het.
Die jaarlikse kompetisie is dikwels deur sake soos ondermeer die twee Wêreldoorloë onderbreek.
Sedert 1922 was daar meer deelnemende spanne en is die kompetisie op ʼn tuis- en weggrondslag beslis in ʼn reeks waar spanne honderde kilometers per trein moes reis om te speel. Die Curriebekerreeks het ʼn toenemend belangriker rol in die kies van die nasionale span gespeel.
Sedert 1949 het die kompetisie ná die Tweede Wêreldoorlog tot sy reg gekom, baie gewild geraak en ʼn kwessie van grootpraat van ondersteuners geword!
ʼn Ontwikkelingsgeleentheid
Nou gaan die Curriebekerreeks voort wyl die Bokke speel, en ʼn hele paar ysters is al daar raakgesien en tot toetsrugby bevorder.
Swakker rugby? Natuurlik, met die bestes weg. Steeds goeie rugby? n
En boweal, ʼn kans vir die ontwikkeling van goeie spelers teen ander bulle waarvan baie andersins nie die voorreg van ʼn provinsiale trui sou gehad het nie.
■ Dit het ook ʼn stimulus vir klubrugby meegebring, omdat meer spelers wat net-net nie eersteliga kon speel nie, nou hul rugby teen ander klubs se bestes kan meet. En so ontwikkel.