Die Springbokke se groot oorwinning van 64-21 teen Portugal was voorspelbaar, het ek verlede week in ʼn meningstuk vir die webtuiste Maroelamedia geskryf.
Maar reeds vóór die toets, en ook met so ʼn proeseltjie daarná, is daar van vele kante af gemor oor Rassie Erasmus-hulle se spankeuses wat glo Springbokkleure ‘goedkoop’ gemaak het.
Is dit werklik so?
ʼn Slim besluit met vele voordele
Nee. ʼn Kykie na die verlede sal wys dat dit ʼn pragmatiese besluit van Erasmus-hulle was wat niks anders as voordele vir Suid-Afrikaanse rugby inhou nie. Boonop het die 23-tal Springbokke (22 ná André Esterhuizen se ongeregverdigde rooi kaart) teen Portugal deur die bank getoon dat hulle van internasionale gehalte is.
Dit word ook bewys deur die aankondiging Dinsdag, toe vyf van die 2024-nuwelinge in die Bloemfonteinse skouspel, gekies is in die groep van 33 spelers wat Suid-Afrika se vaandel in die Rugbykampioenskap teen die All Blacks, die Wallabies en die Poemas moet dra.
Dié vyftal is saam met ondermeer 22 van die Wêreldbekerwenners van 2023 ingesluit in die groep wat in die Kampioenskap se ses toetse moet speel.
Net vyf, sal jy vra, van die groot en dikwels indrukwekkende spel in die sege teen Portugal?
Ja, maar voeg by hierdie ‘nuwelinge’ ook ervare toetsspelers soos ondermeer RG Snyman, Thomas du Toit, Cobus Reinach, Manie Libbok, Kurt-Lee Arendse,
Makazole Mapimpi, Lukhanyo Am wat ook in Bloemfontein gespeel het.
Dan eers besef mens die toets met die gekritiseerde spankeuse was immers ʼn stap wat op die toekoms gerig is.
Dit is gedoen om die plaasvervangers te begin grootmaak om die ouer Wêreldbekerwenners vir 2027 stelselmatig te begin vervang.
Toetse nou gebruik om span te kies
Die wedstryd in Bloemfontein was nie die eerste van sy soort nie waar die wedstryd help bepaal wie goed genoeg vir internasionale rugby is.
Daar is nou eenvoudig te veel rugby om aan die baie tradisies en vele seisoene se hoogtepunte van die verlede vas te klou waar ondermeer weeklange proewe gehou is om kombinasies en teenstanders teen mekaar op te weeg voor die kies van die Bokspan.
Ja, rugby het die afgelope jare verander. En ek praat nie net van die reëls nie.
- Daar was ook die ‘verdwyning’ van die nasionale klubkampioenskappe wat voorheen op ʼn sentrale plek plaasgevind het en waar die land se beste klubs sake uitgespook het. Nou word dit op klubvelde in die meeste van die 14 bonde gespeel.
- Daar is ook die afstel van voorwedstryde by toetse, en selfs ook by provinsiale en franchise-wedstryde
- Daar is ook die afskaffing van lang toere van nasionale spanne (behalwe die Britse en Ierse Leeus) wat 24 plus wedstryde op ʼn toer na Suid-Afrika kom speel het.
ʼn Ietsie uit die verlede word her-ingestel
Terloops, en dis nie meer nuus nie: In ʼn poging om darem iets van die verlede se tradisionele lang toere te behou, sal die Springbokke in 2026 die All Blacks vir drie toetse in die plek van die jaarlikse Rugbykampioenskap verwelkom met wedstryde wat ook teen die vier franchise’e, die Bulls, Stormers, Lions en Sharks en ook teen die SA ‘A’-span gespeel sal word.
ʼn Vierde toets sal op ʼn neutrale veld gespeel word en Australië en Argentinië sal hul eie individuele reëlings moet tref om die 2026 Rugbykampioenskap se leemte te vul. Suid-Afrika sal dan vier jaar later in 2030 ʼn soortgelyke toer na Nieu-Seeland onderneem.
Die agt toerwedstryde is ʼn goeie poging om die lang toere te vervang en darem ook weer vir die nie-internasionale spelers die kans te geen om teen ʼn nasionale toerspan te speel.
Dit kon nie anders nie. Die lang toere deur die jare voordat beroepsrugby (amptelik!) in 1995 ʼn werklikheid geword het, is nou onprakties. Daar is deesdae eenvoudig te veel rugby en die internasionale spanne sal te sterk wees vir die 14 provinsies, die SA Universiteite of ander gekombineerde spanne van ons universiteite of bonde om geregtigheid aan so ʼn toer te laat geskied.
En hoe sal selfs ons heel beste provinsiale spanne sonder hul Bokke teen die All Blacks op so ʼn toer vaar?
Boonop kan geen nasionale span eerstens met die vol internasionale program só lank van die huis af toer nie, en geen hedendaagse nasionale spelers kan by hul reeds vol program boonop ʼn ‘tradisionele’ lang toer van 24 of so wedstryde deurmaak nie.
Hulle het immers ook hul plaaslike kompetisies soos ondermeer die VRK, die Heinekenbeker en internasionale reekse soos die Sanzaar-kampioenskappe waaraan die Springbokke, All Blacks, Australië en Argentinië deelneem wat voor ʼn lang toer ingepas sal moet word.
Curriebeker, plaaslike kompetisies deur meer toetse geraak
Die meer toetse en internasionale kompetisies soos die Rugbykampioenskap, plus natuurlik die finansiële noodsaaklikheid om aan kompetisies soos die Verenigde Rugby Kampioenskap (VKR) en die Europese Kampioenskap deel te neem, se invloed op ons tradisionele plaaslike rugbyreekse soos die Curriebeker en die gepaardgaande bywoning daarvan is duidelik waarneembaar.
Kyk net hoe het toetse die afgelope jare toegeneem:
- Vanaf 1960 tot 1989 was daar in totaal net 98 toetse (gemiddeld 3,3 per jaar). Vanjaar se 13 toetse tussen 22 Junie en 23 November, wat die afgelope jare die norm is, beteken daar (was) is gemiddeld minder as twee weke tussen toetse.
- Dit geld ook ons vyf franchise’e (die Bulls, Lions, Stormers, Sharks en Vrystaat).
Die Bulls, byvoorbeeld, het tussen 22 Oktober 2023 en 22 Junie vanjaar net in die twee oorsese kompetisies, die Verenigde Rugbykompetisie (VRK) en die Europese Rugbykampioenskap, in 28 wedstryde gespeel.
Dit is gemiddeld 3,5 wedstryde per maand, oftewel een in minder as elke nege dae!
Suid-Afrikaanse rugby, soos ook die ander lande (meervoud) se afrigters, het nie meer die luuksheid van proewe waarna 70 spelers genooi word nie. In die ou dae, tot en met die vroeë 1960’s, was die Curriebeker nie eers elke jaar op die spel om ʼn Bokspan te kies nie! En dan was daar boonop ʼn Curriebekerreeks wat oor drie jaar (1957-59) beslis is!
Proewe was dus nodig en dit het ondanks tekortkominge redelik goed gewerk. Maar daar is vandag nie tyd daarvoor nie.
Daar is vandag wie weet hoeveel aanspraakmakers vir ʼn plek in die Springbokspan. Hul geweldige wedstrydlas plus natuurlik beserings bepaal noodwendig dat dit nie anders kan as om spelers te kies wat die afrigter en sy personeel meen by hul voorsiene spelpatroon inpas nie.
En dit moet heelwat voor die volgende Wêreldbeker in plek wees! Dit, en ook die groei van die sport rugby by soveel minder erkende nasionale spanne, maak dit by verskeie lande die gebruik om van die dikwels jonger, meer onervare spelers in wedstrydsituasies te toets – soos Saterdag toe Portugal, vyftiende op Wêreld se rangorde, in Bloemfontein in ʼn toets teen die Bokke gespeel het.
Heelwat is deur Rassie Erasmus-hulle uit hierdie wedstryd geleer. Die nuwe Springbokke het hul merk gemaak, en daar is ʼn hele paar wat vorentoe die vaandel sal moet (én kan) dra.
Net so was daar die onlangse wedstryd teen ʼn swakkerige Wallis op Twickenham. En wie onthou ook Rassie se eerste toets in beheer toe die Bokke in 2018 in die VSA teen Wallis verloor het toe Erasmus-hulle ook oor moontlike spelers vir toetsrugby moes besluit?
En laastens oor dié onderwerp: Teenstanders soos Portugal leer ondanks die groot neerlaag ook heelwat van die die spel, taktiek en speelpatrone.
Dit kan net goed vir rugby as immer-groeiende wêreldsport wees …