Plumtree se terugkeer sal Sharks nuwe woema gee

Die aanstelling van John Plumtree as hoofafrigter van die Sharks met ingang 1 Julie is ʼn aangename verassing. En vir die Sharks is dit baie goeie nuus.

Dit volg ná die aanstelling van Neil Powell, voormalige afrigter van die suksesvolle Blitsbokke, as die Sharks se direkteur van afrigting laat verlede jaar.

Powell moes egter die leisels as hoofafrigter oorneem (iets wat hy nog nie as Blitsbok-afrigter ooit moes doen nie!) toe die Durbaniete se afrigter Sean Everitt die pad gewys is.

Powell sal voortaan met sy toegewysde verantwoordelikhede kan aangaan.

Everitt, wat voor sy aanstelling groot sukses met die junior spanne van die Sharks gehad het, het moontlik geweet dat sy doppie geklink is toe hy met 0-35 teen Cardiff op Kingspark verloor het.

En was dit nie vir die inkoop van die Amerikaanse maatskappy nie (met ʼn oud-Nataller aan die stuur!) sou Everitt miskien nog ʼn week of twee oorleef het.

Of so is daar by die rugbybase in Durban gevoel voordat die druk van hulle vennoot MVM hulle verplig het. Geld wat stom is …..

Maar Everitt se lot was in elk geval beklink. MVM, die beleggingsmaatskappy wat saam met die Sharks ʼn aandeelhouer is, se woord is wet en Everitt het sy pos verloor.

Hy help sedertdien as assistent-afrigter by Jake White-hulle, waar hy deur die Bulls hoog aangeslaan word.

Die voormalige Blitsbok John Plumtree, wat 80 wedstryde vir die ou Natal gespeel het en in die eindstryd van hulle eerste Curriebekertitel in 1990 was, is terug in Durban as hoofafrigter van die Sharks.

  • Plumtree sal vanaf 1 Julie weer die Sharks se leisels as hoofafrigter vashou wanneer Powell sy fokus na sy eintlike pos as direkteur rugby kan verskuif.

Plumtree, wat met ʼn Suid-Afrikaanse vrou getroud is, het ook die Natalse span vyf jaar, vanaf 2008 tot 2012, afgerig. In dié vyf jaar het hy twee keer die Curriebeker as hoofafrigter gewen nadat die Natallers met hom as speler tussen 1988-1997 vier keer die Curriebeker gewen het.

Hy was met twee van hierdie vier oorwinnings (1990 en 1996) in die wenspan.

Nadat Plumtree Natal in 2012 verlaat het, was hy ook die assistent-afrigter van Ierland (2013-2014), Japan (2017-2019) en die All Blacks (2020-2022).

Ná hy as speler uitgetree het, was hy ook hoofafrigter van ondermeer Swansea (nou die Ospreys in die VRK-reeks), Wellington in Nieu-Seeland, assistent-afrigter van die Hurricanes vir vyf seisoene (2015-2018) en hoofafrigter in 2019, en ook afrigter van die Noord-Eiland in 2020 vir die jaarlikse wedstryd teen die Suid-Eiland.

Plumtree se pos as All Blacks se assistent-afrigter was daarmee heen toe die All Blacks se afrigter, Ian Vorster, verlede jaar in die pad gesteek is.

Facebook
Twitter
LinkedIn
Pinterest

Maak 'n opvolg-bydrae