Baie beroepsreekse druk ons klubrugby dood

Ek onthou nog die sewentigerjare toe die destydse SA Rugbyunie net toestemming vir uitsending van die tweede helfte van provinsiale wedstryde aan die unies toegestaan het en toe televisie in Suid-Afrika nog ʼn nuwigheid was.

Die rede? Die SAUK wou toe só hul kykerstalle vermeerder.

En ek onthou dit soos gister hoe Loftus Versfeld se drie buitevelde, waar duisende toeskouers hul Carltonliga-klubs en selfs (op die D-veld) die onder 20s ondersteun het, skielik feitlik leeggeloop het wanneer die tweede helfte van  Noord-Transvaal  se Curriebekerwedstryde op televisie  vertoon sou word.

Dit was tóé al hartseer, omdat Loftus se hoofveld gewoonlik sowat 10 000 of so toeskouers getrek het ná die Carltonbeker-wedstryde wat op die vier buitevelde afgehandel is – veral wanneer van die topspanne soos Tukkies en Polisie op die hoofveld slaags was.

Die leegloop-probleem het mettertyd vererger, veral nadat plaasvervangers deel van die spel geword het. Die tweede en derde spanne se manne moes op die bank sit ingeval van ʼn besering aan een van die eerste of tweede span se spelers.

Toe het klubrugby se bepalings, met dikwels al ʼn klub se spanne, na die klubs verskuif, waar al die spanne van ʼn klub teen die besoekers gespeel het en toeskouers darem in die klubhuise se TV-stelle iets van die provinsiale wedstryde kon sien.

Daar is nou by die meeste stedelike unies ʼn soortgelyke stelsel, maar die realiteit is dat die klubs se ondersteuning nie naastenby is wat dit voor die koms van televisie was nie.

Natuurlik ondersteun ʼn kleinerige groepie steeds hul klubs as toeskouers, maar die dae is verby dat daar ʼn massa ondersteuners of sommer rugbyliefhebbers is wat ver sal ry om ʼn taai wedstryd te sien soos in die jare toe die uithaler-Bokke Boland Coetzee en Morné du Plessis onderskeidelik die Maties en Villagers teen mekaar aangevoer het.

17 000 op Nuweland

Ek het hierbo na Loftus verwys. Ek onthou ook die WEEKSDAG in 1967 toe die eerste drie spanne van die Maties en Ikeys in die middel van die werksweek in die eindrondes van die WP-ligas kragte gemeet en ons voor sowat 17 000 mense op Nuweland opgedraf het.

Dis hartseer. Ons klubrugby was nog altyd sterk en met goeie ondersteuning. En dit was deur die jare die plek waar jy jou merk moes maak.

Die televisie en amper voltydse Saterdagrugby waarby Suid-Afrikaanse provinsiale spanne en franchise’e betrokke is, het vir die keerom gesorg.

Klubrugby bly belangrik. Waar gaan spelers wat laat ontwikkel raakgesien word? Daar is vele ander in Suid-Afrika wat ook groot drome en baie talent het maar nie in die Varsitybeker kan speel nie.

Wat van spelers wat beseer was, of vir ʼn minder bekende rugbyskool of om ander redes die Cravenweekspan misgeloop het? En spelers wat nooit deur hul provinsies of die nasionale keurders raakgesien word nie?

Marcell Coetzee, wat op 1 Mei terug is van sy Rugby-‘sabbat’ in Japan, is ʼn goeie voorbeeld. Die Bulls se kaptein het het nie Cravenweek gespeel nie en toe ná skool by die Sharks se Rugbyakademie ingeskryf, waar hy raakgesien is.

Dit kan in Pretoria ook gedoen word, waar feitlik elke eersteliga-klub ʼn eie akademie met professionele afrigting het.

Die Varsitybeker vang natuurlik vele spelers op wat dan verder deur kontrakte en professionele afrigting ontwikkel word.

Om te sien hoe die klubstelsel ingespan kan word, kan ʼn mens veral die vyf franchise’e as voorbeeld gebruik. Die Stormers, Sharks, Bulls, en Lions moet vanweë hul betrokkenheid by die VRK-reeks en die uitspeelrondes van onderskeidelik die Rugbykampioenskap (die Heinekebeker) en die Rugbyuitdaagreeks genoeg spelers van gehalte hê om tegelykertyd twee spanne op die veld te kan hê.

Die Cheetahs het ook bostaande probleem gehad toe sy uitsoekspelers vir die Rugbyuitdaagreeks hul tuisveld in Italië moes maak.

Boland en SWD

In die Boland met sy magdom spanne en die SWD wat ook ʼn goedgestruktureerde klubkompetisie het, is daar hope onontginde talent. Dit is ʼn belewenis om daar rugby te kyk, met busse vol toeskouers wat by wegwedstryde opdaag.

ʼn Mens kan sonder teenspraak sê dat hierdie twee bonde se klubrugby alle ander rugby vir hul ondersteuners, insluitende die provinsiale spanne, oorheers. Miskien selfs te veel só!

Maar hulle moet, soos die Bulls, Stormers en Sharks, ook voorste spelers uit die klubs begin lewer en weer hul regmatige plek in ons eersterangse rugby begin inneem …

Die Gouebeker, wat later in die jaar gespeel word, gee vir die beste klubs in al ons rugbyprovinsies geleentheid om teen die bestes op daardie vlak te speel – en ʼn hele paar manne sal weer daarna vir hoër diens opgetel word.

Facebook
Twitter
LinkedIn
Pinterest

Maak 'n opvolg-bydrae