Verrassings en lekker rugby tuis en oorsee

deur Wim van der Berg

WATSE heerlike rugby het die afgelope naweek nie gelewer nie!

Daar was die drie Sesnasiestoetse wat goeie, en in twee gevalle skitterende, rugby opgelewer het.

Tuis was daar die drag slae wat die Bulle teen die verdedigende kampioen van die Curriebeker, die Pumas, op die lyf geloop het. Die telling van 15-63 is grootliks te danke aan die pragtige ondersteuning wanneer die Pumas die Bulle se foute uitgebuit het.

Nege Pumas-drieë teen net twee, die laaste reg teen die einde deur die Bulle, wat nie veel gedoen het om te oortuig dat hulle vanjaar aanspraakmakers op die titel sal wees nie, vertel ʼn verhaal wat tot groot nadenke by Loftus sal lei.

Net so was die Leeus nie opgewasse teen die Westelike Provinsie nie. Die telling op Ellispark was 44-28 – en die Leeus het ietwat teleurgestel nadat hulle in hul laaste twee wedstryde in die VKR skielik  meer byt getoon het ná ʼn vergeetbare seisoen.

Die Vrystaatse Cheetahs was veels te goed vir Griekwas, verlede jaar se verloorspan in die eindstryd. Griekwas sal veel beter moet word en dit gou moet doen as hulle weer wil stem dikmaak. Dit was boonop vir hulle ʼn tuisneerlaag.

Die Griffons was, al was dit in Durban en sy hitte of dit reën of nie, nie opgewasse teen die Sharks wat met 32-16 gewen het nie. Die Sharks was die enigste van die naweek se tuisspanne wat sy wedstryd gewen het.

Die sprong van die Eersteliga na die Premierliga toe gaan vir die Griffons ʼn wedstryd of twee neem om in te skop, maar vir nou moet die teenstanders nie dink die Griffons sal sommer vir bonuspunte gemelk kan word nie.

Op internasionale vlak was daar die naweek die voorlaaste ronde van die 2023 Sesnasiesreeks.

Al drie die tuisspanne het die naweek verloor.

  • Wallis was Saterdag in Rome te goed vir Italië, en het met 29-17 gewen. Die Italiaanse span se afrigter, Kieran Crowley, was na die wedstryd sterk uitgesproke oor die wedstrydbeamptes se foute wat hy glo sy span benadeel het.
  • In Saterdag se tweede Sesnasieswedstryd was die heerlikheid op sy lekkerste met die Franse se oorwinning van 53-10 teen Engeland waar Twickenham so stil was soos ná die neerlaag teen die Bokke op die jaareindtoer. Die ondersteuners het vroeg-vroeg al huis toe begin stroom, maar het hul span darem nie dié keer uitgejou soos ná die Bokke se sege nie.
  • En dan, om die naweek af te sluit, was daar die wedstryd op Murrayfield waar die Skotte en die Iere slaags was. Ierland het met 22-7 gewen. Uit Suid-Afrika was daar buitengewone belangstelling in dié wedstryd, want dié twee spanne speel vanaf 10 September in dieselfde groep as die Springbokke in die Wêreldbekertoernooi in Frankryk.

MORE KYK EK ’N BIETJIE DIEPER NA WAT TOT DUSVER IN DIE SESNASIES GEBEUR HET, MET ’N PAAR WAARNEMINGS VAN DIE TEENSTAND EN SOORT RUGBY WAT ONS IN DIE WêRELDBEKER  KAN VERWAG.

Facebook
Twitter
LinkedIn
Pinterest

Maak 'n opvolg-bydrae