KOPBESERINGS: Veranderings is onvermydelik

RUGBY soos ons dit vandag ken, laat staan nog die veel ouer spel waar daar minder reëls en meer ‘onderduimshede’ was, sal na verwagting oor die volgende paar jaar heelwat aanpassings moet maak.

Ja, die spel wat volgens beskikbare inligting verreweg die meeste konkussies van alle sporte tot gevolg het, sal móét verander.

En dis nie die gewone gepeuter met ʼn huidige stel reëls wat dit sal veroorsaak nie, maar reëls wat uit noodsaak sal vloei uit die nuwe reëls oor duikslae (tackles) wat reeds in Frankryk en Nieu-Seeland op proef gestel is.

Ross Tucker, gerekende Suid-Afrikaanse sportwetenskaplike, is tans Wêreldrugby se navorsingswetenskaplike. Hy werk vir hulle veral aan die voorkoming en bestuur van beserings en het die so drie weke gelede ʼn paar belangrike punte uitgelig in ʼn bespreking van beserings wat by verdediging voorkom.

Hy het in ʼn potgooi (glo podcast se Afrikaanse woord) tydens ʼn onderhoud oor die uitdagings met kopbeserings gesels nadat Engeland se beheerliggaam, die Rugby Football Union (RFU), besluit het dat ʼn nuwe riglyn vir duikslae vanaf 1 Julie op alle vlakke van amateurrugby in Engeland sal geld.

Die duikslae in Engelse rugby sal dan onder die heup moet wees.

Maar die RFU moes die aankondiging en implementering daarvan terugtrek omdat die amateur spanne, op vele vlakke insluitende die skole, baie driftig daarteen kapsie gemaak het.

Dit is natuurlik nie ʼn nuwe gedagte nie. Frankryk het in 2018, ná die dood van van vier seuns weens hoogvatte wat kopbeserings veroorsaak het, beslis dat alle duikslae onder die naeltjie, dus op die heup, moet wees. Nieu-Seeland het verlede jaar die sternum (borsbeen) as laagste vlak ingestel.

Tucker se gesprek in die potgooi-onderhoud was bykans ʼn uur lank, maar in ʼn neutedop is die belangrikste wat daar uitgekom het:

  • Die navorsing en reeds jarelange telling-hou van konkussie-gevalle is ʼn bewys dat daar ʼn probleem is. Kyk jy na die verlede, so 20 of meer jaar terug waar navorsing skraps was of glad nie bestaan het nie, is die kwantifisering van hoogvatte as rede vir kopbeserings of konkussie egter moeilik.
  • Hoeveel keer kon dit dalk die gevolg van ander beserings gewees het? Of ander aksies as die duikslag? ‘n Knie, sweepslag-val met die kop teen die grond, ensovoorts?,
  • Daar is oor dié tydperk, en selfs meer onlangs, geen presiese meting, d.i. getalle, van die voorkoms van duikslae-beserings nie. Dus kon daar ook ander vorme van beserings gewees het wat tot konkussie en/of neuro-degeneratiewe gevolge gelei het.

Intussen is daar tientalle spelers wat die RFU hof toe neem omdat hulle jare gelede degeneratiewe kopbeserings opgedoen het en nou probleme van ondermeer dementia ondervind. Maar die vraag kan gevra word of dit bloot die gevolg van duikslae is, of van al die stampe en stote oor baie speeljare.

Samevattend: Die toenemende voorkoms van konkussie, aldus Tucker in die potgooi, is uiteraard ʼn probleem. Dat werk gemaak moet word van die hoogvatte waar kop-teen-kop beserings aan die toeneem is, is volgens Tucker “nie ʼn geval óf ons dit moet oplos nie, maar hóé.”

  • Die vraag bly egter of alle kopbeserings die gevolg van hoogvatte is. En ook of ʼn nuwe reël, waar die aanvallende speler wat met die bal storm, dikwels in gebukkende posisie is as hy teen die verdediger vasdryf wat nou self gebukkend moet wees om sy duikslag laag te hou. En dis weer ʼn kop-teen-kop moontlikheid …
Facebook
Twitter
LinkedIn
Pinterest

Maak 'n opvolg-bydrae