Groot slae vir Black Ferns – en regrukkans vir Bokke

FOTO: SA RUGBY

Engeland is loshande die gunsteling om aanstaande jaar rugby se Wêreldbeker vir vroue in Nieu-Seeland te wen.

Hulle het die afgelope twee Saterdae met die Kiwi’s se Black Ferns in twee jaareindtoetse in Engeland gemors en die oorwinning van 43-12 met ʼn sege van 56-15 opgevolg.

Dit was net nóg ʼn bewys dat sukses in sewesrugby, waar die Kiwi’s se vroue feitlik onaantasbaar is, nie vanselfsprekend vir die vyftienspelerkode ook geld nie.

Daar is natuurlik ook ʼn Sesnasiesreeks vir vroue, wat soos te wagte in 2021 deur Engeland gewen is. Met die reeks wat in twee afdelings verdeel is, moes die Engelse uithaal om Frankryk in die eindstryd tussen die twee afdelingwenners met 10-6 te klop.

Dit is dus duidelik dat die gereelde internasionale teenstand, ook buite die Sesnasiesreeks, die Europese spanne se spelpeil en mededinging beter slyp as dié van Nieu-Seeland.

Springbokke

Dit is in die lig van Frankryk se bewese krag in die kompetisie dus nie ʼn verrassing dat die ietwat onervare Springbok-vrouespan die afgelope naweek teen hulle slae gekry het nie. Die telling was 46-3 in die Franse se guns.

Maar daar is darem lig in die tonnel. Eerskomende naweek speel die vroue-Bokke in Cardiff teen Wallis. Twee weke later draf hulle op Twickenham tee die Britse Barbarians uit, wat nie speletjies sal wees nie.

Die Rooitrui-Walliesers het albei hul wedstryde, teen Frankryk en Ierland, in die Sesnasies ver verloor. Hulle het 98 punte en 15 drieë afgestaan en nie ʼn enkele punt aangeteken nie. Boonop het die Bokke nie onlangs veel internasionale rugby gespeel nie.

** Wallis is tans 11de op die vroue se toetsranglys en Suid-Afrika 13de. Die vyf voorste spanne is Engeland, gevolg deur Nieu-Seeland, Kanada, Frankryk en Australië.

Facebook
Twitter
LinkedIn
Pinterest

Maak 'n opvolg-bydrae