Die beroemde Carltonbeker, wat as die grondslag beskou word vir die vele Curriebekers, die aantal Springbokke wat opgelewer is en die drie Superrugbytitels van Sanzaar wat Noord-Transvaal en die Bulls gewen het, is sover vasgestel kan word die vyfde oudste beker waarvoor nog in Suid-Afrika se klubligas meegeding is.
En dit is om hierdie tradisievolle beker wat die twee finaliste vir die 2021-Carltonbekerreeks Saterdag sal veg. Naka Bulle en Northam van Limpopo het nog nie een die grootste prys in Noord-Transvaalse of Bullsrugby gewen nie.
Dit sal taai wees. Daar sal 16 spelers op die veld wees wat reeds Curriebekerrugby gespeel het; ook vier Junior Springbokke; verskeie wat in die Varsity- en Vodacomreeks gespeel het, selfs ‘n gekontrakteerde Bullsspeler en nog een wat in die Verenigde Rugbykampioenskap se groep is.
Hoewel daar vier ouer bekers is waarom klubs in die land meeding/meegeding het, is die Carltonbeker tog deur die jare, en veral gedurende Noord-Transvaal se goue tydperk in die 1970s, beskou as die fondament waarop die unie se sukses gebou is en ‘n bron van jaloesie van die ander groot unies
Die Carltonbeker is natuurlik ook ‘jonger’ as die Curriebeker (1892).
Ek sal ʼn bietjie later uitbrei oor die baie interessante herkoms van die Carltonbeker.
Moorbeker 1875
Die Moorbeker, wat deur die jare aan die Natalse en Sharks ligawenners oorhandig is, is moontlik die oudste trofee in wêreldrugby – selfs ouer as die Calcutta Cup wat die eerste keer aan die wenner tussen Skotland en Engeland ná ʼn toetswedstryd in 1879 toegeken is. (Hulle het in 1872 in die heel eerste rugbytoets al teen mekaar gespeel.)
Die Moorbeker is reeds in 1873 gemaak, en die eerste keer waarom daar vir die beker gespeel is was in 1885 toe die ‘Colonials’ met die ‘Homegrowns’ in Kimberley afgereken het.
George Moor, na wie die beker vernoem is, het dit toe geskenk vir wedstryde tussen Natal en die Colonials, en na twee oorwinnings deur die Natalse delwers in Kimberley is dit in ooreenstemming met Moor se versoek na die Natal Museum in Pietermaritzburg oorgeplaas.
Die trofee het egter weggeraak en is eers jare later gevind. Dit is toe in 1957 die eerste keer aan die wenner van die Natalse kompetisie daardie jaar, die Natalse Universiteit, oorhandig.
WP se Groot Uitdaagbeker (1883)
Die tweede oudste beker waarom klubrugby in Suid-Afrika gespeel is en waarom weens politieke redes nie meer meegeding geword nie, is die Groot Uitdaagbeker van die WP waarom reeds in 1883 gespeel is.
Pirates Groot Uitdaagbeker (1889)
Die Pirates Groot Uitdaagbeker van die ou Transvaalse Rugbyunie dateer uit 1889. Pretoria Rugbyklub van die Transvaalse subunie was die eerste houer ná hy Pirates geklop het. Pirates het die trofee toe vier keer ná mekaar gewen, aan die Transvaalse Rugbyunie geskenk en die aanvanklike Imroth-trofee is sedertdien as die Pirates Groot Uitdaagbeker die Lions se grootste rugbyprys.
Natal (Sharks) se Murraybeker (1890)
Natal se eerste voorsitter, (later Sir) TK Murray het die beker in 1890 geskenk en dit was die eerste permanente trofee (sien Moorbeker hierbo) waarvoor daar in Natal meegeding is
Die Carltonbeker (1904)
Die Carltonbeker kry Saterdag ʼn nuwe baas, wat ʼn nuwe naam op die wenplaatjie sal beteken. Naka Bulle speel teen die Limpopo mynspan Northam.
Die storie van die Carltonbeker is interessant. Die Carltonbeker, so lui die storie, het sy oorsprong in die kroeg van die Carlton Hotel gehad. Arthur G. Lezard, die eienaar van die hotel, het dit in 1903 geskenk aan ‘n groep rugbyspelers wat gereelde besoekers aan die gewilde kroeg was. Die volgende jaar is die eerste kompetisie om die Carltonbeker gespeel en Pretoria het Harlequins, die span wat sy tradisionele vyand sou word, in 1904 13-0 in die eindstryd geklop en die eerste houers van die beker geword.
▲ Ondanks sy status as die grondslag van Noord-Transvaal se rugbykrag, veral tot en met 1992, het die administrateurs die Carltonbeker ietwat onverskillig behandel.
Aanvanklik is die kompetisie op ‘n ad-hoc basis beslis. Die Pretoria Subunie se topspanne het eerder probeer om die gesogte Pirates Groot Uitdaagbeker te wen – die een waarin Pretoria se topklubs met die TRVU se klubs van Johannesburg meegeding het.
In Pretoria is die Carltonbeker egter nie uitsluitlik as ‘n trofee vir senior klubs gebruik nie. Dit was eers in 1938, toe die NTRVU onafhanklik geword het, dat die belangrikheid van die beker vasgestel is. En die belangrikheid is in 1941 weer afgewater toe die kompetisie weens die oorlog opgehef is.
Dis nie duidelik hoe die wenners bepaal is vir die tydperk 1941-’46 nie hoewel hulle aangeteken is. Daar word algemeen aanvaar dat die wenners van die “afgewaterde” senior liga (weens spelers wat opgeroep is front toe) eers later retrospektief as Carltonbekerwenners verklaar is, behalwe in 1942 toe die kompetisie wel om die Carltonbeker was en Polisie dit gewen het.
Die kompetisie is in 1947 hervat, maar in die jare 1947-’50 is die Carltonbeker aan die wenspan van die onderste helfte van die senior liga toegeken. So het Polisie in 1947 die senior ligatitel gewen en Innesdale die Carltonbeker.
Tussen 1951 en 1957 het spanne nie-amptelik om die beker meegeding, maar die klubs wat die senior liga van 1947 tot 1957 gewen het, het wel hul name op die beker laat graveer. Hulle was in baie gevalle nie die topklubs van die NTRVU nie.
Sedert 1938, toe die Carltonbekerkompetisie ‘n liga net vir senior klubs geword het, is die beker elke jaar behalwe 2006 toegeken, toe daar geen kompetisie was nie.
Hieronder volg, sover bekend, ʼn lysie van die oudste trofeë waarom daar in Suid-Afrika gespeel is, asook die datum van die Calcutta Cup wat steeds jaarliks deur Skotland en Engeland gespeel word om die heel eerste toets in 1871 te gedenk.