‘Rustende’ SA spanne sal VRK-uitslae fyn dophou

Die vier Suid-Afrikaanse franchise’e, wat die naweek ʼn loslootjie in die vyfde ronde het en dan saam met die ander 12 spanne in Europa verdere ruskans tot einde November het, sal nietemin die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) se laaste ronde voor die breekslag fyn dophou.

ʼn Paar van die voorste spanne in die kompetisie sal met die ekstra wedstryd uiteraard hul voorsprong bo ons spanne verhoog

Van die ander Europese spanne se posisie sal natuurlik verswak of ten minste onder druk kom, selfs al bly hulle net-net voor die Lions, Bulls, Stormers en die Sharks.

Vrydagaand

▪ Vrydagaand speel Glasgow Warriors tuis teen die verdedigende kampioen en tans die tweede span op die punteleer, Leinster. Glasgow, wat vierde lê, kan tuis vir ʼn verrassing sorg.

▪ Die Scarlets (13de) en Benetton (agste)  se wedstryd op die Parc y Scarlets in Llanelli, ook op Vrydagaand, is vir albei spanne van die allergrootste belang.

Die Scarlets het 22 spelers wat weens beserings (12) en die nasionale  oefenkamp (10) nie kan speel nie en kan swaar leef teen die Italianers wat tuis die Reënboogreeks met ʼn slagting van die Bulls gewen het.

Die stut Aaron Shingler speel die naweek in sy 200ste wedstryd vir die Scarlets en die voormalige Walliese kaptein en senter Scott Williams i die nawe kaptein.

As Benetton sou wen, bly die klub net-net voor die SA spanne wat minder wedstryde gespeel het.

Saterdag

▪ Edinburgh, wat teen die Stormers gelykop (20-elk) gespeel en die Bulls 17-10 geklop het, behoort Saterdag met ʼn bonuspunt teen Italië se sukkelende Zebre te wen. Zebre speel op 27 November in Kaapstad teen die Stormers en die week daarna teen die Sharks op Kingspark.

▪ Connacht was verlede naweek ongelukkig (veral as jy hul afrigter Andy Friend kan glo!) om met 16-18 teen Munster te verloor. Die neerlaag het Connacht na 11de plek laat afskuif, net-net met punteverskil bo die Lions en Scarlets.

Hulle meet Saterdag kragte met Ulster – en vir een van die twee Ierse spanne sal die uitslag slegte nuus wees. Die wedstryd word op Connacht se veld in Galway gespeel en die tans voorste span Ulster sal moet uithaal om te wen. Verloor Connacht egter, is hy in die moeilikheid.

▪ Die Cardiff Blues, wat tuis in ʼn Walliese derby teen die Dragons speel, sal moet uithaal. Tog lyk dit of die Dragons na sy vyfde wedstryd steeds op sewe ligapunte sal wees, net een voor die Lions wat ʼn wedstryd minder gespeel het.

▪ Nog ʼn taaie sal dié tussen die vyfde geplaasde Walliese span, die Ospreys, tuis teen Munster wees. Dit sluit die naweek se VRK-bepalings in die vyfde ronde af. Die sesde ronde word oor die naweek van 26-28 November gespeel.

Die naweek se bepalings –
Vrydag

20:35 Glasgow Warriors vs Leinster (Scotstounstadion)
20:35 Scarlets vs Benetton (Parc y Scarlets)
Saterdag
14:00 Zebre vs Edinburgh (Stadio Sergio Lanfranchi)
18:15 Cardiff vs Dragons (Cardiff Armspark)
18:15 Connacht vs Ulster (Galway Sportsground)
20:35 Ospreys vs Munster (Libertystadion)

Facebook
Twitter
LinkedIn
Pinterest

Maak 'n opvolg-bydrae